Watervlerk
Saterdag, 12 Maart, 2005,
Fismer saal, Konservatorium, 12h30.
‘Watervlerk’ is ‘n opdrag produksie vir die Woordfees -
gebaseer op 'n idee van Theo - dankie Theo en dank aan die Woordfees.
Geborg deur De Kat.
Teks saamgestel uit:
Melanie Grobler se ‘Die Waterbreker’ (Tafelberg, 2003)
Ilse van Staden se ‘Watervlerk’ (Tafelberg, 2003)
en ander skryfsels deur die digters.
Met
Melanie Grobler
Ilse van Staden
&
musikale gaskunstenaar, Eugenie Grobler met Martina Klopper (klavier)
&
John Pringle - slagwerk / marimba,
Jan-Hendrik Harley – viola / kitaar,
Johann Kotze - kitaar / fluit
Produksie, konsep en teks samestelling (lg. met veel hulp van die skrywers) deur Johann Kotze.
Musiek deur Johann Kotze met hulp van John Pringle Jan-Hendrik Harley.
Toonsettings van Melanie deur Eugenie.
Beide Melanie en Ilse se werk het die laaste twee jaar bekendheid verwerf onder die gediglesende publiek. Hoewel
uiteenlopend van aard en skryfstyl, is daar, onder meer, 'n deurlopende tema van water, en die skryfproses aanwesig in beide.
Die gedigte hieronder is geneem uit Ilse se debuut bundel (wenner, Eugene Marais prys) en Melanie se tweede bundel ('Tye en swye in die lewe van Hester
H' het in 1991 by Tafelberg verskyn, en die Rapportprys ontvang in 1992.). Vind Melanie se biografiese inligting by
www.stellenboschwriters.com.
ietsie oor die inoud ...
Ek het lank reeds 'n fasinasie met die verband tussen woord en klank, en veral klank as 'n manier om woord te help interpreteer om betekenis op ander, meer intuitiewe
wyse te ervaar. 'n Woordfees produksie (die woorde wat so wink daarvan 2003 met Petra Muller) was 'n poging tot 'Afrikaanse Zen', en dit is ook 'n soortgelyke gevoel van
ruimtelikheid en spiritualiteit in die verse van Ilse en Melanie, iets in hulle 'klank' en inhoud wat dit vir
my moontlik gemaak om musiek daarmee te verweef en die tekste so te verbind dat dit 'n geheel as produksie kon vorm.
'n Verskeidenheid van slaginstrumente, fluite, kitare en 'n aantal ander eksotiese instrumente resoneer gemaklik met nuanses
gesugureer deur die woorde en beelde om sodoende nuwe konteks en begligting op die verse te gooi sonder om te probeer om liedjies daarvan te maak.
Eugenie Grobler, 'n musikant en liedjieskrywer-sanger van formaat,
het vier van Melanie se gedigte getoonset.
- Johann
mp3 opnames
(lewendig opgeneem in die fismer-saal)
Hoeders van die tuin /Let there be dragons (Ilse met Johann - fluit / John - slagwerk)
Ongetiteld (Melanie met John - jembe / Jan-Hendrik - viool / Johann - kitaar)
Die twee gedigte hieronder verskyn beide in die program:
ficus religiosa
iewers in my hart
waar ek die diepste asemhaal
skuins langs die ribbekas
hier waar ek nou in holtes
na wysies en ou koeltes luister
luister weer na wysies luister
het ek toe vir ons die bodiboom geplant
- Melanie
Ligvaart
Op hierdie Aprilse namiddag
ets die lig die droë wolke wit
teen die vaalblou lig
so duidelik
dat mens daaraan wil raak
of daarin wil swem
in die onmoontlike verdrinking
van lig:
so sal ek wil gaan,
my verdrink in die middaglig
om vier- of vyfuur
wanneer die dag stiller word
en lomerig teen die rantjies leun,
lig my dan uit die bestaan
lig sonder liggaam
- Ilse
'n paar gedagtes wat by my opgekom het tydens die samestelling van die verse ....
dit is nogals 'n besonderse proses om musiek met gedigte te vermeng sonder om die verse te toonset as liriek.
as sulks is dit eerder 'n vermenging van klank en woord in n 'nuwe luisterervaring as een van die twee, woord of
instrumentale musiek (sonder woorde) op hulle eie - waarin woord en klank moet saamvloei om nuwe betekenis te
verkry. terselfdertyd moet die musiek uit die pad van die woorde bly en 'n eie identitiet aanneem sonder om die digter
se werk te domineer of daardeur gedomineer te word. hierdie samesmelting is meer 'n klanklandskap soos in 'n film met
sy klankbaan; daar is woorde en beelde, en musiek wat apart staan en terselfdertyd mekaar komplimenteer. dit is meer
belangrik vir my om 'n ruimte te skep waarin die gedigte ervaar kan word in 'n klank konteks eerder as in 'n suiwer
akademiese voorlesing. daarom is die samestelling van verskillende gedigte ook eerder intuitief as intelektueel, hoewel
daar natuurlik ook 'n storielyn of tema tersprake is in enige konsep produksie, en maak 'n nuwe storie op wat so binne
nuwe konteks binne die gegewe klanklandskap resoneer. natuurlik is die klanke nie noodwendig iets wat die digter self in
sy of haar se oorspronklike gedig sou hoor nie, tog is daar 'n tussenspel tussen lettergrepe, woordritmes en - rym wat
'musiek maak', en emosies voortbring, en dit is hierdie verwantskap wat ek so besonders interresant vind. die aanbieding
op die verhoog van sulke vorm dan 'n tipe musikale improvisasie, soos in jazz gespeel volgens 'n vooraf bespreekte tema
(sonder bladmusiek natuurlik!), maar met die nadruk op ritme en ander nuanses deur die spontaniteit van die oomblik
bepaal. die leser is dan eerder 'n sanger-interpeteerder van die teks as 'n blote voorleser, en moet musiek maak en luister
na die begeleiding, net soveel as wat die begeleiers na mekaar moet luister en die 'sanger', moet ondersteun.
- johann, kogelbaai, 21 februarie 2005
Contact Johann /
Conservation /
Live /
Music /
Mp3's /
Spoken Word /
Writing /
Yoga
Copyright, credits, website management and hosting