| Site Map | Home | |
Die produksie is geskoei op ‘n Xhosa intsomi, of storie. Hierdie vertelling is deel van die ryk verhaleskat eie aan Suider-Afrika, en word in verskillende weerawes in kulture so wyd as Zimbabwe en Botswana gevind. Verhale soos hierdie word tradisioneel saans rondom die vuur met oorgawe aan die kinders vertel. Die vertelling sluit dans en mimiek in en as die verhaal bekend is, word die gehoor selfs betrek om karakters uit te beeld. Diere-karakters en magiese figure staan sentraal in die energieke vertelling, en meestal lê daar ‘n wysheid of ‘n lessie verskuil in die storie.
Hierdie orale tradisie van storievertelling is, hoewel bewaar in boeke, in gevaar om uit te sterf. Met Die Reënvoëltjie wat melk kon maak word die intsomi spreekwoordelik uit die as herrys, van die vuur af weggevat en vir die wyer publiek vertel. Die aanbieding 'bewaar' die tradisionele kwaliteite van die instombi se dans en mimiek, energiek uitgevoer deur talentvolle akteurs van die Hoërskool Kayamnandi, Stellenbosch. Aardse en kleurryke tradisionele kostuums en teatrale maskers kombineer met 'n atmosferiese klankbaan in 'n vertelling wat elemente van outydse radio hoorspel en die verhoog kombineer.
Die Reënvoëltjie handel oor die mense van ‘n dorpie wat jare lank deur droogte geteister word, en hul konfrontasie met 'n magiese reënvoël wat uiteindelik voorspoed vir hulle bring. Op ‘n bewarings-vlak sê die verhaal : “Sorg vir die natuur en die natuur sal vir jou sorg”, maar ook moedig dit aan: “Vuk’ uzenzela!” – doen iets om positief met die groter omgewing om te gaan!
Johann Kotze het ‘n unieke klankbaan vir die produksie geskep wat o.a. die stemme in van die Abaqondise Brothers, ook van Stellenbosch, insluit. Abaqondise spesialiseer in die gewilde acapella sangstyl wat internsionaal bekend gemaak is deur Ladysmith Black Mamabazo, het al vyf CD’s uitgegee en het al, benewens optredes op talle plaaslike feeste, ook vir Nelson Mandela gesing tydens koningin Beatrice se verjaardagseremonie 'n paar jaar gelede in Nederland. "Trees for Life", 'n snit met 'n instrumentele dans-groove vanaf 'n album wat hulle saam met Johann opgeneem het in 2002 verskaf beide materiaal vir jeukende voete en 'n boodskap van natuurbewaring: Johann het die liedjie oorspronklik gekomponeer as 'n temalied wat die aanplant van bome en 'n natuur-spirituele bewussyn aanmoedig.
Die verteller word vertolk deur Jacques Coetzee, sanger, digter en dosent aan die departement Engels, US. 'n Kragtig-atmosferiese woord en klank uitbeelding van die Eugene Marais gedig "Dans van die reen" baat by sy liriese en emsosionle stem, terwyl die gedig self sorg vir 'n interresante vermenging van 'n Afrikaanse kultuurskat, geskoei op dieselfde tradisie as die intsombi, met 'n wyer Afrika-verhaalkuns.
Teks, regie en koreografie is behartig deur Esther von Waltsleben. Die maskers is ontwerp en gemaak deur Hannah Morris, 'n Amerikaanse kuns student wat nagraads aan die Universiteit Stellenbosch Studeer.
Die produksie is op die been gebring deur Ella Odendaal, bestuurder van die Stellenbosch Museum, met die doel om ‘n medium wat ‘n geleentheid vir die uitruil en bewaring van kultuurskatte in die plaaslike gemeenskappe aan te moedig. Die produksie open tydens die Stellenbosse Woordfees in die Erfurthuis waarvandaan dit aanskuif na die KKNK. Skole, feeste en ander instansies word aangemoedig om die speelvak te verleng deur Ella te kontak met versoeke vir verdere opvoerings (021-8872937). Die Reënvoëltjie wat melk kon maakduur ongeveer 45 minute, en is hoewel in Afrikaans aangebied, toeganklik vir mense van eneige taal en geskik vir gehore van enige ouderdomme.
Die Reënvoëltjie wat melk kon maak op CD
Die klankbaan, met die storieverteller se stem ingesluit, is op versoek op CD beskikbaar. Kontak Johann.
Stem: Jacques Coetzee
Alle instrumente, programering en opnames: Johann Kotze
met
Abaqondise Brothers
John Pringle: marimba
Eddie Boyd: saksofoon
"Trees for life": programmering deur John Playdon, opname Jurgen Von Wechmar
mp3's
Oh trees for life - see them grow
Spirit is calling us - make them grow
They are our young ones - help them grow
They are our future - bless their soul
Vikelani konke, vikelan’okuhle
Vikelani konke, vikelan’ imithi
(Protect all, protect the beautiful things. Protect the trees.
They are God’s nature. They are beautiful things).
(English words by Johann Kotze, Xhosa words adapted from a traditional song by Mongesi Hermans).
Lees die verhaal
"Milk Bird", in "The girl who married a lion", deur Alexander McCall Smith, uit 'n bundel Afrika-verhale.